Blou Saffiere
Onder 100 jaar …
“Ook tot in julle ouderdom is Ek die Here, tot in julle grysheid sal Ek julle dra. Ek het julle gemaak en Ek sal julle vashou, julle dra en julle red”. (Jesaja 46:4)
Om saam met die seniors in ons gemeente tyd te spandeer is ‘n voorreg en regtig elke keer ‘n heerlike ervaring. Die Bybel verwys met respek na ouderdom. As die digter ouderdom in terme van beelde uit die natuur en omgewing beskryf, kry die leser nooit die indruk dat daar met minderwaardigheid of minagting na ouderdom verwys word nie. Hierdie selfde ingesteldheid is ook ‘n kernwaarheid van die bediening aan senior burgers in ons gemeente.
Ons leef die visie “Ons leef Geesvervuld na Bo, Binne en Buite” in ons saamwees uit. Ons leuse is Aktiewe Oudword en elkeen word aangemoedig om so aktief moontlik te wees soos ons liggame ons toelaat om te wees. In die lig hiervan probeer ons die totale mens (Siel, Gees en Liggaam) in gedagte hou wanneer programme en samekomste beplan en gereël word. Die seniors as groot groep kom maandeliks tydens ‘n Donderdagoggend om 09:30 by ons gemeente byeen en gaan kuier ook dikwels by die ander senior burgers in die Ring. Tydens hierdie byeenkomste groei ons geestelik saam, maar sorg ook dat daar iets beestelik beplan word. Geen byeenkoms kan plaasvind sonder lekker kos nie en met elke maandelikse byeenkoms word daar lekker saam geëet. Verder is daar omgeegroepe wat weekliks op ‘n Dinsdag en Woensdag vergader.
Ons het ‘n jaarlikse Bybelvasvrae waar die verskillende gemeentes teen mekaar meeding om vas te stel wie se geheue nog die varsste is. Tydens 2009 se vasvrae het ons derde geëindig. Gedurende 2010 gaan ons die boek Prediker bestudeer en elkeen word nou alreeds uitgenooi om hierby in te skakel en te begin leer.
Ons kamp ook graag en daar word weereens ‘n kamp vir die seniors gedurende die eerste helfte van 2010 beplan.
Olga Burger is die voorsitter (ma) by die senior bediening en elkeen wat meer inligting in hierdie verband benodig, kan haar kontak. Ds. Marius is die predikant wat by hierdie bediening betrokke is.
Ds. Marius (013-6970815)