Tuis
Pinkster is en was nog altyd ‘n spesiale tyd in die geskiedenis van die Christendom. Van daardie eerste beskrywing daarvan in Handelinge waar die tonge van vuur op die vroeë Christene gekom het, tot vandag. Pinkster is ook ‘n spesiale tyd in ons gemeente. Sedert 2010 se beplanning het daar ‘n opgewondenheid in ons harte begin groei en het die verwagting begin ontstaan dat Heilige Gees ons tydens 2010 se Pinksterdienste gaan ontmoet. Ons geloof en vertroue is nie teleurgestel nie en die Heilige Gees het veel meer gedoen as wat ons verwag het. Wat verwag ‘n mens dan ook as die Bybel sê dat die Gees waai waar Hy wil en ook soos Hy wil? Ons het nie voorskrifte gehad nie – eerder ‘n skoon bladsy en die besluit om gehoorsaam te wees en te doen wat Hy sê.
Die toets het op die mannekamp gekom en daar het Ds. Louis die toets van gehoorsaamheid alreeds geslaag. Dit wat daar gebeur het, was die waarborg dat die Heilige Gees ‘n plan met elkeen gehad het wat die Pinkster 2010 reeks sou bywoon. ‘n Mooi groep mense het getrou in die aande gekom en die Here geloof, na die woord geluister en gewaag. Wat ‘n wonderlike vuur het nie tydens die reeks dienste begin brand nie. Die werklikheid van ‘n fantastiese Geesvervulde lewe is ontdek, mense het struikelblokke in die werking van die Heilige Gees ontdek en persoonlik met die Here uitgesorteer. Volwassenes en ook kinders het in toue voor in die kerk kom staan om met die Heilige Gees gedoop te word.
‘n Nuwe era van gehoorsaamheid aan die Heilige Gees het begin! Dit is nie maar iets wat net gebeur het en nou verby is nie – ‘n mens sien die verandering in lidmate se lewe. Ons sien harte wat aan die brand gesteek is deur die vuur van die Gees! Mense wat begin bid wat dit nooit voorheen kon doen nie, ‘n nuwe passie om die Evangelie met ander te deel is aan die groei en ‘n visie om die Here in Gees en Waarheid te aanbid – nie net tydens die erediens nie, maar ook as ‘n lewenswyse – is sigbaar en hoorbaar is.
Die uitdaging wat nou ‘n prioriteit is, is hoe om hierdie Geesvervulde lewe te behou!
Moenie hierdie wonderlike tyd in ons gemeente mis nie.
